Ons Skool

Welkom

Liewe besoeker aan ons webwerf

en voornemende Durbies

Ons verwelkom jul met trots by ons webwerf – die toonvenster van die Durbiefamilie se hartklop. Mag dit vir elkeen ‘n aangename ervaring wees om vir ‘n wyle te loer na ons doen en late.

Elkeen droom van ‘n skool waar hul gelukkig kan wees, waar kennis en ervaring ontsluit word, waar lewenslange vriendskapsbande gebou word en ‘n leeftyd se herineringe gemaak word, van ‘n skool waar Akademie, Sport, Kultuur, Leierskap en Leefstyl op die hoogste denkbare vlak gebesig word: As dit ook jou droom is, dan hoef jy nie verder te soek nie.

Maar wat maak hierdie trotse Afrikaanse skool, wat eersdaags tweehonderd jaar oud sal wees, dan anders?

Ons leef ‘n eenvoudige waarheid: Dat geluk ‘n wilsbesluit is waarin elke keuse ‘n gevolg het en daarom strewe ons daarna dat elke kind die nodige geleentheid gegun word en werksetiek gevestig word, om juis dit te kan doen. Die lewe staan egter nie stil nie en niemand van ons kan die sand wat deur die uurglas loop stop of selfs poog terugdruk nie. Ons poog dus dat ons leerders voluit moet leef en beleef. Ons moedig nuwe ervarings aan en skroom nie om op te staan vir wat reg en regverdig is nie. Ons ontsluit graag verskuilde talente, toon empatie met ander se uitdagings, verwerp nooit ons leerders nie, gee nie moed op nie, kyk nie ander pad vir die negatiewe van ons land nie, akkommodeer uiteenlopende menings en standpunte, maar is ook nie bang om erkentenis te gee aan ons Here nie.

Bowenal lag, speel en geniet ons dit wat ons doen. Ons verloor nie fokus van waarom ons eintelik in skool is nie en stap die spreekwoordelike myl om te verseker dat ons die skool is waar elkeen iemand is. Ons maak seker jy betreë die grootmenslewe selfstandig, toegerus en gereed. Blaamskuif en regverdiging is twee vyande wat nie welkom is op ons kampus nie.

Sal al bogenoemde vir jou waar kan word? Dit hang af wat jy met die geleentheid gaan doen, jou ingesteldheid en hoe jy kies wat vir jou van belang is.

Blaai dus gerus deur ons webwerf, kom drink ‘n koppie koffie by ons of gesels met oud-Durbies, jy mag dalk net daardie ideale skool ontdek het waar balans een van ons waardes is wat ons ten alle koste poog beskerm.

Welkom op die webwerf, die tuiste van Durbietrots!

Mnr. Coenie Venter
Skoolhoof

So Lyk ons Skool

Die skool is besonder bevoorreg om te kan spog met ‘n groot verskeidenheid geriewe van hoë gehalte

Leerders het toegang tot drie internet-gekoppelde rekenaarsentrums, moderne fasiliteite in die klaskamers, ‘n ouditorium wat 750 mense kan akkommodeer en met ‘n skouburg vergelyk kan word, asook uitmuntende fasiliteite vir ons sportdeelnemers.

‘n Nuwe toevoeging tot ons fasiliteite is ‘n navorsingsentrum. Daar is 15 rekenaars met internet-toegang, asook ‘n interaktiewe witbord. Leerders kan elke weeksmiddag van hierdie fasiliteit gebruik vir navorsing- en studiedoeleindes. Fotokopieermasjiene en skandeerders is beskikbaar en take kan hier ook gedruk en gebind word.

Die skool is verder toegerus met ‘n tegnologie-, verbruikerstudie- en verskeie biologie- en wetenskaplaboratoriums. Ons spog ook met ‘n goed toegeruste musiekblok waar leerders in verskeie instrumente onderrig word.

Ons koshuis is onlangs opgegradeer en verskaf puik verblyf aan leerders.

Ons beskik oor die volgende sportgeriewe: vier tennisbane, Hokkie Astro en twee hokkievelde, ses netbalbane, drie rugbyvelde, twee krieketvelde, vyf krieketnette, ‘n swembad en ‘n atletiekbaan. Daar is verder ook twee klubhuise vir die verskillende sportsoorte beskikbaar.

Ons heet jou besonder welkom by Hoërskool Durbanville – die hoërskool waar elkeen iemand is!